Woon in Vrede

Seker een van die kosbaarste besittings wat enige gemeente kan hê, is vrede tussen die lede.  Om hierdie rede sal die vyand van die kerk alles in sy vermoë doen om die vrede te vernietig en onderlinge struweling tussen die lede aan te blaas.

Dawid het gesê: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!” (Psalm 133:1). Dit is inderdaad ‘n aangename en wonderlike ervaring wanneer daar vrede in die kerk is. Disharmonie is egter een van die mees onaangename dinge in enige kerk.

In die wêreld soos ons dit ken, is daar altyd konflik, struweling en vyandskap. Hierdie wêreld is onder die satan se beheer en wanneer hy in beheer is, maak hy seker dat dinge chaoties, deurmekaar en vol struweling is. Dit is veral vir Christene moeilik om in die wêreld te leef, juis as gevolg van hierdie chaos en ook omdat die wêreld voortdurend in ‘n stryd gewikkel is teen die ware gelowige. Gevolglik moet die kerk die een plek wees waar die gelowige vrede, harmonie en orde kan vind. Die kerk is veronderstel om soos ‘n koel, lugversorgde gebou te wees waar ‘n mens skuiling kan vind teen die hitte van die versengende somerson.

Dit is een van God se karaktertrekke dat Hy ‘n God van vrede en orde is (Romeine 15:33). Hierdie kenmerk van God se persoon kan duidelik in die skepping gesien word. Elke ding, van die kleinste atoom tot die grootste sterrestelsel vertoon God se harmonie en orde. Op die hoogste vlak bestaan die Vader, Seun en Heilige Gees in absolute en perfekte harmonie, eenheid en vrede en God wil dieselfde harmonie weerspieël sien in die liggaam van Sy kerk. “God is tog nie 'n God van wanorde nie, maar van orde en vrede. Soos in al die Christelike gemeentes” (1 Korintiërs 14:33).

Jesus het gesê dat die onderskeidings kenmerk van ware gelowiges en ware kerke hulle onderlinge liefde vir mekaar sal wees. Selfs ongelowiges sal na hulle aangetrek word weens die getuienis van liefde tussen die broeders. “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Johannes 13:35). Hy het gebid “dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Johannes 17:21).

Tog lyk dit asof die teenoorgestelde dikwels waar is. Dit is ontsettend ontstellend en stremmend as ons nie vrede kan vind in die een plek waar ons juis veronderstel is om vrede te vind nie. Christene is veronderstel om uit te sien na die volgende byeenkoms waar hulle mekaar in vrede, liefde en aanvaarding kan ontmoet, iets wat andersins nie in hulle daaglikse lewens te vinde is nie. Maar wanneer daar konflik in die kerk is word hierdie plek, wat ons bron van krag en bemoediging moet wees, ‘n bron van vêrdere spanning en treitering. Dit is baie hartseer.

Maar ongelukkig is baie kerke plekke van spanning en konflik waar broers probeer om hulleself en hulle agendas te bevorder en op te rig, dikwels ten koste van al die ander. Somtyds sluit Fariseërs hulle by die gemeente aan en bring hulle foutvinderige wetlikheid saam. Ander kere weer sal die self-verheffende en self-gesentreerde mans in die gemeente alles doen om te bewys dat hulle voortrefliker is as al die ander, terwyl hulle almal wat hulle as ‘n moontlike bedreiging vir hulle status beskou, verkleineer. Daar is baie maniere waarop die vrede in die plaaslike gemeente versteur en bedreig kan word en elke lid het ‘n plig om alles in hulle vermoë te doen om die struikelblokke tot vrede te verwyder.

Onstuimighede kan somtyds tot bedaring gebring word as broeders hulleself verootmoedig en die dinge bely wat hulle in die kerk ingebring het en wat die oproer en probleme veroorsaak het. Dikwels vra dit ‘n grootse wonderwerk van God om die harte te verander. Daarom het ons nodig om vir die Here se inmenging in die sake van die kerk te bid. Ander kere egter sal vrede slegs kom as die oortreders vanuit die gemeente verwyder word. Somtyds sal die Here die moeilikheidmaker verwyder, maar ander kere is dit die kerk se plig om die oorsaak van die skeuring te verban. “Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie, omdat jy weet dat so 'n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself” (Titus 3:10-11).

Wanneer daar vrede in die kerk is, moet elke lidmaat alles moontlik doen om die vrede te bewaar, te beskerm en te bevorder. Die kleinste van oortredings moet verwyder word, voordat dit ‘n reusagtige probleem word. Dit vra dikwels nederigheid van die mense wat om verskoning moet vra. Hulle moet ook dikwels restitusie maak ten einde dinge reg te stel sodat die harmonie so spoedig moontlik herstel kan word. Dit is nie net die plig van die leiers om die vrede in die kerk te beskerm nie. Elke lidmaat moet aktief meewerk om die vrede te bewaar. Hulle moet dit doen, eerstens in hulle eie persoonlike verhoudings en tweedens deur as vredemakers tussen ander op te tree. Wanneer mense skinder, bevorder dit onmin, daarom moet ons eerder by mekaar vir mekaar intree ten einde vrede te maak. Jesus het gesê: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matteus 5:9).

Vrede is belangrik weens die plesier wat dit verskaf aan almal wat die seën van ‘n vreedsame en liefdevolle verhouding geniet. Dawid het dit beskryf as die salwende olie wat van Aaron se kop na sy baard en klere gevloei het (Psalm 133:2). Die olie streel en genees en laat die vel gloei. Net so streel en genees eenheid tussen die broeders die siel en laat dit die kerk met warmte en gesondheid gloei.

Vrede is egter ook belangrik want daarmee saam kom God se seëninge. Die Here gaan nie ‘n verdeelde kerk seën nie, maar Hy stort seëninge uit daar waar broers in harmonie saamwoon (Psalm 133:3). Iemand het eenkeer gesê dat die Heilige Gees soos ‘n duif is wat maklik skrik gemaak word wanneer daar verdeeldheid en disharmonie is en dat Hy slegs sal rus op diegene wat volmaak in vrede is. Dit is waar. Nooi die atmosfeer in jou kerk die Heilige Gees in, of skrik dit Hom af? Is daar harmonie en eengesindheid ten einde die Here se seëninge te ontvang of het die Here Hom van julle gemeente gedistansieer omdat dit eerder die chaos van die wêreld weerspieël as die vrede van God?

Werk jy aktief mee tot eenheid in jou kerk of dra jy by tot die onmin? Om neutraal te bly in enige dispuut bevorder nie noodwendig die vrede nie. Dit is dikwels nodig dat diegene op die kantlyn posisie teen die moeilikheidmakers inneem ten einde hulle tot belydenis te bring. So lank as jy stilbly, dink die moeilikheidmakers dat hulle reg is en gevolglik hou hulle vol met hulle uitlokking.

Laastens, vrede en eenheid is meer as die blote afwesigheid van konflik. Ware vrede bestaan slegs wanneer broers en susters mekaar in praktiese en konkrete dinge waarlik liefhet. Sommige mense is nie daartoe in staat om te preek, te onderrig of om in meer sigbare maniere by te dra nie, maar elkeen van ons kan ‘n verskil maak deur ons broers en susters in Christus lief te hê. Om die waarheid te sê, dit is ons plig en ons voorreg.